top of page
Search

Maak ADHD-lewe makliker met beweging

ADHD is 'n groot uitdaging vir ouer en kind tesame. Eenvoudige aktiwiteite soos huiswerk word 'n oorlog, gevegte breek uit en lang trane word gestort (en nie net deur die kind nie).

Hoekom?


ADHD beïnvloed onder andere jou kind se vermoë om op take te fokus, te konsentreer, te beplan en volgehoue aandag te skenk. Eenvoudige aktiwiteite wat korttermyn geheue en volgehoue aandag verg is nie vir 'n persoon met ADHD eenvoudig nie. Genoeg tyd word nie beplan nie, instruksies word vergeet, dinge raak verlore of daar word aan ander goed gedink.


Hoe weet jy dit is ADHD? ADHD manifesteer hoofsaaklik op 3 maniere:

  1. Slegs aandagafleibaarheid: Die kind sukkel om te fokus, hul aandag dwaal, hulle is vergeetagtig, ongeorganiseerd, ens.

  2. Slegs hiperaktiwiteit: Die kind vroetel, sukkel om stil te sit, praat baie, kom impulsief voor, ens.

  3. 'n Kombinasie van aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit.

Dit is belangrik dat ADHD/ADD gediagnoseer word deur 'n kundige wat dit mag diagnoseer soos 'n pediater, sielkundige ens.

Beweging kan 'n groot verskil maak in die lewe van 'n kind met ADHD. Oefening gee die brein se neuro-oordragstowwe 'n hupstoot. Neuro-oordragstowwe is die chemiese boodskappers van die brein. Oefen dra daartoe by dat leervermoë toeneem, aangesien sterker neuro-oordragstowwe sterker seine stuur wat jou help om te onthou.

Dit kan help met die uitvoer van allerdaagse takies en instruksies, asook skoolwerk.



 

Uit die pen van 'n volwassene met ADHD

Hierdie plasing was nie toeval of geluk nie, dit is werklik hoe my oggende verloop. Oggende is vir een of ander rede vir my chaoties, ek is oortuig daarvan dat my brein rebelleer. Daar is net te veel dinge, te veel geluide, te veel goed waaraan ek nóú moet aandag gee. Die bure se honde blaf, my selfoon se liggie flikker, die klokkie van die mikrogolf lui, en ek stap by die huis uit sonder my sleutels en steeds in my pajamas.


Ek is op 7 jaar oud gediagnoseer met ADHD, en leef nou steeds as volwassene daarmee saam. Met tye vermaak ek die mense om my met die snaakse dinge wat ek perongeluk doen, met ander tye frustreer ek myself omdat ek onnodig lank met iets eenvoudig sukkel. Dit was baie moeilik, maar ek het oor die jare geleer hoe ek die lewe vir myself kan vergemaklik. Daar is dinge wat ek kan doen, soos om:

  • genoeg te slaap,

  • gesonder te eet en suiker te beperk,

  • koffie en kafeïne te beperk,

  • roetines te stig,

  • skermtyd te verminder voor slaaptyd,

  • en om gereeld te oefen en deur die dag te beweeg.

Tydens my studentejare het ek besef hoe effektief beweging werklik is. Ek het gereeld met 'n handboek in my hand in die tuin rondgeloop. As ek nou agterkom dat ek nie meer fokus nie, of my gedagtes dwaal, staan ek op en loop om die huis. Ek sal gougou stop en met die hond speel, die speelgoed optel, of selfs bal teen die muur gooi. As ek na 5 minute weer gaan sit, konsentreer en fokus ek baie makliker.


Oefen en beweeg hoef nie baie tyd in beslag te neem nie. Die volgende aktiwiteite kan in 5 minute tydens 'n huiswerksessie gedoen word:

  • Spring 20x tou.

  • Gooi en vang 15x bal

  • Slaan 10x balle met jou hand, raket of houtlepel.

  • Doen 20x skêrspronge.

  • Klim en klouter 5x bo-oor en onderdeur die stoel.

  • Dans vir 30 sekondes

Jou kinders sal die verandering geniet en sal makliker fokus en verder werk.

'n Goeie manier om beweging deel van julle lewens te maak is deur te speel. Selfs volwassenes geniet beweging meer as dit vir hulle interessant is. Dit is maklik om te oefen en beweeg onder die skans van speel. 'n Prettige speletjie is 'Die vloer is lawa':

Pak 'n verskeidenheid voorwerpe op die grond: matjies, papiere, klippe, kratte, stoele, ens. Die kinders moet van die een voorwerp na die ander spring, klouter en beweeg sonder om aan die 'lawa' te raak. Vir ouer kinders kan die voorwerpe verder uit mekaar gepak word.


Oefen en beweeg moenie as 'n straf gesien word nie. Maak dit pret. Maak dit opwindend. Maak huiswerk en leerwerk 'n bietjie makliker vir jou en jou kind.


Dit is ook raadsaam om jou ADHD-kind te motiveer om 'n sport te beoefen. Sodoende leer hulle van roetine, opdaag vir oefensessie, regulering tydens wedstryde en dan is daar nog die fisieke voordele van oefen ook.


Onthou ook dat alle aandagprobleme nie noodwendig die gevolg van ADHD/ADD is nie. Daar is verskeie ander redes waarom jou kind kan sukkel hiermee.


Indien jou kind sukkel met aandag en konsentrasie, voltooiing van takies, prosessering ens., kontak ons gerus vir 'n FOKUS toets om te bepaal


Groete Alicia

143 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page