Spiertonus is die hoeveelheid spanning of weerstand in die spiere. Dit is belangrik vir balans, postuur, uithouvermoë en algemene daaglikse aksies soos loop, buk, sit en goed dra. Wanneer jou kind se spiertonus nie optimaal is nie, kan dit probleme veroorsaak. Probleme met spiertonus word hoofsaaklik verdeel in hipotonie en hipertonie.
Kinders met hipo/lae spiertonus:
se spiere vertoon slap
voel "swaar" as hul opgetel word
lê gereeld op arms of teen meubels
toon swak postuur, staan of sit geboë
kom lomp voor, loop in voorwerpe vas en verloor maklik hul balans
kom ook sonder lewenslus of altyd moeg voor
Kinders met hiper/hoë spiertonus:
is spasties - die kind is afhanklik van momentum om te beweeg
onwillekeurige spiersametrekkings vind plaas wanneer hulle willekeurig beweeg
is rigied - die kind is weerstandig teen vinnige of stadige bewegings

Wat kan jy doen indien jy probleme met jou kind se spiertonus vermoed? Alhoewel daar dinge is wat jy kan doen, is dit belangrik om te onthou dat hipotonie en hipertonie toestande is wat slegs deur gekwalifiseerde arbeidsterapeute en fisioterapeute gediagnoseer kan word. Dit is egter makliker om probleme te voorkom as om nasorg te tref. Spiertonus is ook direk gekoppel aan die vestbulêre orgaan wat in die oor sit. Daarom is draai, swaai en rol-aktiwiteite ook baie voordelig vir kinders met lae spiertonus. Ons ondervind ook in die praktyk dat kinders met lae spiertonus en vestibulêre uitvalle, gereeld ook sukkel met oogspierbewegings. Dit beinvloed weer lees en skryf. Die volgende aktiwiteite kan jou help om probleme aan te spreek en selfs te voorkom:

Hipo/lae spiertonus:
Dierlope (aap, hond, kat, ens)
Klim en klouter
Optrekke
Plank vir so lank moontlik
Sit op oefenbal
Opsitte en opstote
Draai in die rondte
Stoot of trek swaar voorwerpe rond

Hiper/hoë spiertonus:
Gaan passief deur normale omvang van beweging op 'n stadige en veilige manier
Rek en strek passief (stilstaande)
Doen gewrigskompressies
Harde werk en speel: stoot en trek van 'n swaar emmer of kombers

Oefen saam met jou kind
Dit is 'n reuse uitdaging. Ek het goeie bedoelings, ek is regtig van plan om te begin oefen, reg te eet of om vroëer te gaan slaap. Ek begin dikwels ook met hierdie veranderinge, en dit gaan vir 'n dag of drie heel goed. Ek is goed aan die gang, optimisties en ek het 'n plan, en dan... dan gebeur iets. Ek werk laat, is nie lus om nog te sukkel met kook nie. Dis koud, dan is vroeg opstaan om te oefen marteling. Die lekkers of sjokolade is op uitverkoping. Daar is 'n uitsending 22:00 waarna ek graag wil luister. Ek weet nie hoe ervaar julle dit nie, maar dit is vir my baie swaar om in die middel van die week met iets te begin, so dan wag ons maar tot Maandag. En so hou dit aan, tot ek besef 'n hele maand is verby en my goeie voornemens het glad nie gerealiseer nie en ek is steeds onfiks. Maar dis oukei, want gelukkig is ek van plan om Maandag te begin oefen! Lees gerus hierdie oulike bloginskrywing oor halfjaarvoornemens: https://www.huisvolhart.com/post/halfjaar-voornemens
Kou kou kou...
Kinders is oor die algemeen dol oor aksies soos krakerige dinge kou en fluitjies blaas. Alhoewel dit Mamma dalk mag pla, is dit vir hulle vet pret en is dit ook goed vir die ontwikkeling van hul mond- en gesigspiere. Maak gerus maar 'n vergunning en gaan kou, blaas en kraak buite! Blaas fluitjies en blaas ballonne op. Kou krakerige kosse soos wortels en seldery. Gebruik 'n strooitjie en blaas borrels in die bad, veertjies, stukkies sneespapier en tafeltennisballetjies. Loop deur die huis en kyk watter dinge kan julle met julle strooitjies blaas dat dit beweeg. Hou kompetisie en gee aan elkeen 5 minute om soveel as moontlik dinge te lys. Gebruik jul verbeelding en oefen sommer speel-speel sonder dat julle dit besef!
Comments