Knders word gebore met ń lus vir beweeg. Sommiges meer as ander. Sommiges vinniger en hoër as anders. Maar hulle wil beweeg. En kindertjies voel van nature aangetrokke tot baksteenmure, stoele, tafels, banke, vensterbanke en veral hulle ma's. Ek is seker daarvan ekself is die klimraam waarop my kinders nog die meeste geklouter het.
Waarom is klim en klouter so lekker en sommer ook nog belangrik vir jou kind se ontwikkeling?
Klim en klouter ontwikkel die spiere in jou kind se hele lyf en is 'n natuurlike manier om te oefen en spiere te bou.
Klim en klouter ontwikkel onder andere:
Motoriese beplanning:
Dit is die vermoë om die volgende stap of aksie vooruit te kan beplan en uit te voer. Iets soos optelsomme, meetkunde, lees ens. benodig onder andere goeie beplanning. Wanneer jy klim en klouter, moet jy beplan waar om jou voet of hand volgende neer te sit, hoe hoog om jou been op te tel om op die volgende tak neer te sit en ook watter aksie volgende moet gebeur om jou uit die boom te kry.
Ruimtelike oriëntering (posisie in die ruimte):
Wanneer jy moet uitstrek om jou hand op die volgende tak neer te sit, moet skat waar die grond is wanneer jy van die leërtjie afklim en jou voet op die regte plek neer wil sit, benodig jy 'n goeie idee van waar jy jouself bevind in die ruimte. Ruimtelike oriëntering is belangrik om te kan lees, weet waar jy jou letters moet skryf, hoe vêr uitmekaar die woorde moet wees en watter kant die "b" en "d" se boepies moet wees.
Spierkrag:
Klim en klouter maak spiere sterk. Sterk spiere help kinders met fynmotoriese vaardighede soos skryf, ryg, knip ens. Dit help ook dat kinders nie so vinnig moeg raak as hulle moet sit in die klas nie en help ook met uithouvermoë.
Koördinasie is die vermoë om verskillende dele van die lyf effektief saam te gebruik om te beweeg. Wanneer jy klim en klouter moet jy al die dele van jou lyf saam en apart gebruik om te kom waar jy wil wees.
Waagmoed: Een van die belangrikste dinge wat ontwikkel tydens klim en klouter is waagmoed en selfvertroue. Kinders wat hulle vermoëns ontdek deur klim en klouter, ontwikkel 'n gevoel van "ek kan". Ons sien dit sou duidelik wanneer ons kleingoed opklim op die klimraam en vol bravade uitroep: "mamma, kyk hoe hoog is ek". Of wanneer hulle iets nie kon regkry nie en skielik, na bietjie oefen en probeer, dit uiteindelik regkry.
Watter klim en klouter aktiwiteite kan julle by die huis doen?
Klim oor en onder deur stoele en tafels
Klim oor kussings, stompe, bankies, ens.
Hang 'n touswaai in die tuin
Klouter by die glyplank op
Klim boom
Maak tonnels met komberse, meubels, stoele en kruip onder deur
Klim hande-viervoet by die trappe op
Laat baba oor kussings, komberse en sagte speelgoed kruip
Klouter op mamma of pappa se rug of klim teen hulle op
Briefie van 'n juffrou...
My arme ma het al haar dae met my gehad, en nou kry ek 'n tikkie van my eie medisyne terug. Ek het altyd teen alles geklouter en op alles geklim, so dat ek teen die ouderdom van 11 twee blou oë, 'n gebreekte voet, 'n gebreekte (lees vergruisde) pols en ontelbaar baie stampe, bloukolle en skrape agter die blad gehad het. Ek het soos 'n apie geklim en klouter, maar ongelukkig ook soos 'n klip terug geval aarde toe! My arme ma.
Ek kyk nou na 'n lewendige seuntjie wat net so graag klim en klouter. My hart het 'n keer byna gaan staan toe hy sommer net van die swaai af geduik het met 'n "Tannie, kyk hieso!"... My hele lyf het koud geraak, ek het in my geestesoog gesien hoe jaag ek met die kind na Eugene Marais Hospitaal toe. Maar nee, Boetie was piekfyn! Hy het gegiggel en gesê hy wil dit weer doen, en ek het gevoel hoe raak ek oombliklik grys.
Ek kyk so af en toe ook na Karyna se kroos. Hulle maak my senuwees sterk, veral klein Pieter. Gedorie, maar kan daardie kind klouter! Dit is vir my baie lekker om vir hom te kyk, maar ek kou steeds my naels. Ek vra hom op 'n dag of Pappa die een swaai geskuif het, en hy sê heel in sy noppies "Nee Tannie, ek het." Ek het hom eerlikwaar nie geglo nie, tot hy vir my verduidelik het hoe hy tot heel bo by die afdak geklim en die swaai laat sak het! Adri het bevestig, gelag vir my geskokte gesigsuitdrukking, en gesê "Tannie moenie worry nie, ons doen dit baie!" Toe klouter die 3 oudstes in die boom om vir my te wys hoe oulik hulle op en af klim. Dit was indrukwekkend. Klein Jakobus het op my rug gesit en verduidelik dat hy ook so mooi kan klim, maar dat sy beentjies nie vandag lus was om te klim nie.
En toe gebeur dit: my seuntjie val van die trampolien af. Nie baie hoog nie, seker so 50cm, maar genoeg dat ek myself boeglam geskrik het. Hy het vreeslik gehuil, ek het hom opgetel en vasgedruk, en sommer in die proses probeer kyk of al sy ledemate nog heel is. Ons het sy hande gaan was en gesig afgespoel, en... niks... nie eens 'n skrapie nie. Hy het mooi vir my gewys watter skrape reeds daar was, in detail vertel van sy bloukolle se geskiedenis en hardloop om weer te gaan spring. Oukei, duidelik doen hy baie erger dinge as tuimel van die trampolien af...
Dit is toe dat ek besef dat kinders eintlik baie sterk en taai is. Hulle moet klim en klouter, en hulle moet ook val, dis maar net hoe dit is. Ons kan hulle nie keer om hulle te probeer beskerm nie, dit doen hulle meer skade as goed. Wanneer hulle val moet ons maar net daar wees om op te tel, af te stof, dalk 'n pleister te plak en weer te laat speel.
Perdjie ry voorsien kinders van hope pret en plesier, en kan jou ook van 'n goeie dosis oefening voorsien! Tel hulle op jou rug, of laat hulle self op klouter as hulle kan. Hop en galop met hulle deur die huis en tuin, bonus punte as jy geluide ook maak! Anders kan jy 'n kind, of twee as jy dapper is, op jou rug laai en op jou hande en knieë rondkruip. Dit is vir kinders lekker om so hoog te sit en op en af te wip, en is baie goed vir hulle balans, spiere, vestibulêre ontwikkeling en nog baie meer.
Ek geniet dit baie om te kyk hoe kleintjies met soveel energie klim en klouter,dit herinner my aan hoeveel pret my kinderdae was. Geniet die tyd wat hulle so lekker speel, en waag dit dalk selfs ook om 'n keer saam met hulle in die boom te klim!
Groete, Alicia
Comments