top of page
Search

Balspeel vir oud en jonk


Ons het hierdie week lekker beweeg, speel en leer met balle. Ek dink nie mense besef aldag watter wonderlike apparaat balle werklik is nie. Kinders (en grootmense!) van alle ouderdomme is gek oor balle en balspeletjies, kyk maar net na rugby, sagtebal, krieket en tennis. Balspeel ontwikkel soveel vaardighede en is maklike oefening sonder om eentonig te raak. Dit is 'n goeie manier om jou kind uit die kwaad en besig te hou, terwyl jy hulle sommer terloops help om hul lyfies sterk te maak.


Wat kan julle dan alles met 'n bal doen?

Hierbo is oulike oefeninge wat met balle gedoen kan word. Hier is 'n paar idees:

  • Skop, vang, gooi, bons en rol balle

  • Bo-oor, onderdeur, om stoele, tafels ens.

  • Gooi die bal onderarm en ook bo-oor

  • Gooi balle in die wasgoedmandjie, emmer of houer

  • Bons die bal teen die muur en vang dit weer (begin by groot bal en dan tennisbal)

  • Skop of gooi 'n bal na 'n teiken

  • Rol die bal oor baba se lyfie

  • Rol die bal na baba toe en laat hulle die bal wegstamp en gooi

  • Pak blikkies, bottels en houers uit en skop dit met 'n bal onderstebo

 

'n Briefie van 'n jufrrou

Die seuntjie wie ek au pair is dol oor 'n bal. Maak nie saak watter kleur, grootte of tipe nie, 'n bal is altyd 'n wenner. Ek 'motiveer' die liewe kind in die middae met balspeel om ons huiswerksessies glad te laat verloop: "Seun, dink net hoe lank kan ons bal speel as ons nou mooi hard werk..."

Enige terugpraat of nukkerigheid verdwyn dadelik, en hy maak pragtige sinne en somme in rekord tyd! As ons baie werk het, en ek sien die ou lyfie raak moeg gesit, neem ons gou 'n breek. By die deur uit word een van die balle gewoonlik gegryp.

"Tannie, kan ons vandag weer lekker lank bal gooi?"

Eers het ons net gewoon bal gegooi. Toe het ons begin skop, rol, lugballe gooi, bal bons, agteroor gooi en nog vele meer. Naderhand was dit nie meer 'n uitdaging nie. Gelukkig is ons baie kreatief. Ons het aanbeweeg na bal gooi en vang terwyl hy op die trampolien spring. Dit is na 6 maande steeds 'n gunsteling. Onlangs het Boetie besluit om te kyk of hy die bal oor die trampolien se net kan skop terwyl hy spring. Hy raak nou goed daarmee, en ek kry baie oefening terwyl ek agter die bal aanjaag. Wen-wen. Ek kan die opgewondenheid in sy stemmetjie hoor elke keer as ons 'n breek neem: "Tannie, kan ons asseblief bal gooi?" Ek kan dit nooit oor my hart kry om nee te sê nie...

 

Balspeel is nie net netbal, rugby en sokker nie. Alhoewel sport baie pret is, kan jy baie ander speletjies met 'n bal uitdink. Maak jou eie rolbalbaan, gryp verskillende tipes balle en kyk hoeveel punte kan elkeen opraap!

Julle hoef ook nie ure lank bal te gooi nie, as daar 'n 10 minute oop is voor 'n afspraak of aktiwiteit, gooi bietjie bal. Druk 'n bal of boontjiesak in jou sak om die kinders besig te hou as julle by mense gaan kuier of iewers wag. Speel saam met jou kinders. Ek geniet dit nogsteeds om bal te speel, ek dink nie dit gaan ooit vir my vervelig raak nie. Dit is 'n goeie manier om gou 'n breek te neem, te ontspan, te oefen en sommer gou 'n paar minute met jou kind te spandeer.


Groete,

Alicia

73 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page